Groot beloning uitgereik ná bouer se moord

0
90

ʼn Groot beloning is uitgeloof vir enige inligting wat kan help om Kobus Brown, ʼn 61-jarige bouer wie se liggaam Saterdagoggend buite ʼn huis in Mthatha in die Oos-Kaap aangetref is, se moordenaars vas te trek.

Maroela Media het vroeër berig Brown se liggaam is kort ná middernag buite die huis in Southernwood aangetref met ʼn koeëlwond aan sy bolyf. ʼn 9 mm-patroondoppie is op die toneel gevind. Sover vasgestel kan word, is twee selfone en ʼn televisie gesteel. Daar was niemand anders by die huis toe hy gevind is nie.

.

Brown is ʼn inwoner van Scottburgh in KwaZulu-Natal en het tydelik in Mthatha gewoon toe hy vermoor is. Brown se vrou, Elmarie (61), het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed, aangesien sy in hierdie moeilike tyd deur haar kinders bygestaan word.

Die Brown-egpaar woon die afgelope 14 jaar in Scottburgh nadat hulle van Polokwane (Pietersburg) in Limpopo daarheen verhuis het. Drie kinders, André Brown (41), Jenny Brown-Caroto (36) en Jaco Brown is uit hul huwelik gebore. Jaco is in die ouderdom van 18 oorlede.

Elmarie het gesê die nuus van haar man se moord het as ʼn groot skok vir die familie en die gemeenskap gekom en hulle word oorval met boodskappe van bemoediging. Brown was sy lewe lank ʼn bouer en ook nou betrokke by die Nuwe Apostoliese Kerk se Scottburgh-gemeente.

Elmarie is reeds afgetree en Brown was in Mthatha om aan ʼn boukontrak te werk toe hy vermoor is. “Hy is sowat twee maande gelede Mthatha toe om konstruksiewerk by ʼn winkelsentrum te doen. Hy het saam met ander kontrakteurs gebly en die projek moes teen November oorhandig word. Die polisie het ons laat weet ʼn buurvrou het omstreeks 00:30 twee mans opgemerk en sy het die polisie gebel nadat sy ʼn skoot gehoor het,” het Elmarie gesê.

Sy het haar man beskryf as iemand wat baie betrokke was in die gemeenskap. “Hy was baie lief vir die buitelewe. Ons het gereeld gaan voetslaan en het omtrent al die staproetes in Suid-Afrika voltooi. Hy was ook baie lief vir kamp,” het sy gesê.

Sy het gesê haar man was baie hardwerkend, beginselvas, standvastig en kon respek afdwing. “Hy was ʼn goeie pa en volgens Jenny, die beste oupa waarvoor ʼn mens kon vra. Sy familie was sy alles.”

Brown laat sy vrou, kinders en vier kleinkinders agter. Sy gedenkdiens vind Saterdagoggend in Pennington plaas.

Lt.kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Volgens Elmarie het Brown se werkgewer ʼn R100 000-beloning uitgeloof vir mense wat inligting het wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van sy moordenaars kan lei. Inligting kan by die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aangemeld word.

Kobus Brown en sy dogter, Jenny. Foto: Verskaf.