Boer se liggaam deur plaaswerkers gevind

0
570
ʼn 47-jarige boer van Oos-Londen in die Oos-Kaap is Saterdagoggend vroeg op sy plaas doodgeskiet.

Konst. Akhona Wapi, woordvoerder van die polisie, sê die boer se liggaam is glo deur plaaswerkers gevind toe hulle Saterdagoggend vroeg vir werk opgedaag het.

“Een van die plaaswerkers het aan die polisie vertel dat hy die oggend ʼn man by die plaashek sien lê het toe hy deurgery het, maar hy het gedink dit is sommer ʼn dronk werker. Hy het na die huis gery en aangeklop, maar niemand het geantwoord of was tuis nie,” sê sy.

Volgens Wapi het dié plaaswerker na die boer gaan soek, en sy medewerkers beveel om die “dronk man” by die hek te gaan haal.

“Hy kon nie sien nie, omdat dit nog baie donker is. Die werkers daag skuins ná 05:00 by die werk op, dan is dit nog pikdonker. Die ander werkers het toe na die hek gestap, en gesien dit is die boer wat daar lê.”

Wapi sê die boer se liggaam het verskeie skietwonde gehad.

Volgens haar het die buurtwag die polisie ontbied nadat die werkers sy liggaam by die hek opgespoor het.

“Die motief van die moord is nie in dié stadium bekend nie. Ons is ook nog nie seker van afhanklikes nie,” sê Wapi.

Die man was vermoedelik ʼn hoenderboer van die omgewing.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.