17-jarige stuur glo dreigemente aan ministers

0
67
Fikile Mbalula, minister van polisie, het Vrydag gesê die polisie het ʼn 17-jarige meisie van Gugulethu uitgeken as die persoon wat dreigemente aan ANC-LP Makhosi Khoza en verskeie ander ministers gestuur het.

Mbalula het tydens ʼn perskonferensie gesê ʼn verband is getref tussen die jong vrou en die Demokratiese Alliansie, gebaseer op “inligting wat op sosiale netwerke gepubliseer is”, maar het bygevoeg die polisie het nie enige amptelike bewyse gevind dat sy ʼn lid van die DA is nie.

“Die persoon wat dr. Makhosi Khoza gedreig het, is ʼn minderjarige meisie. Sy is ʼn 17-jarige graad 10-leerling aan ʼn hoërskool in Gugulethu, Kaapstad. Twaalf selfoonnommers wat gebruik is om mense te dreig, is suksesvol na haar en haar ma teruggelei,” het hy gesê.

Hy het gesê onderhoude is ook gevoer met die meisie se ouers, maatskaplike werkers, arbeidsterapeute van die plek van veiligheid waar sy gehou word en ander wat ook slagoffers was van haar oortredings.

“Dr. Khoza het aangevoer die dreigemente teen haar was ʼn gevolg van bakleiery in die ANC. Dr. Khoza het nie aan Suid-Afrikaners die waarheid vertel in hierdie saak nie. Die dreigemente is van ʼn minderjarige kind en [Khoza] was nie die enigste persoon wat só gedreig is nie,” het hy gesê.

Die jong vrou het ook glo minstens sewe ander persone, lede van die nasionale vergadering, gedreig, insluitend minister van kommunikasie Ayanda Dlodlo en minister van maatskaplike ontwikkeling Bathabile Dlamini.

Dlodlo het ʼn saak van intimidasie in Gauteng aanhangig gemaak teen die minderjarige.

“Minister Dlodlo is ook in Julie 2017 op ʼn soortgelyke manier gedreig. Daar is ʼn bykomende ondersoek in Kaapstad waar die slagoffer selfs die hof genader het om ʼn interdik teen die meisie te bekom,” het Mbalula bygevoeg.

Volgens hom het die meisie se pa aan die polisie gesê hy moes gereeld ingryp wanneer die meisie soortgelyke gedrag getoon het binne haar eie gemeenskap.

Die ondersoek het ook aan die lig gekom dat die meisie in 2016 in ʼn plek van veiligheid by Elsiesrivier opgeneem is nadat sy aan die ministerie van maatskaplike veiligheid geskryf het en aangevoer het haar ma “stuur haar na uitlanders vir seks en is betrokke in dwelmmiddels”.